

Heuningsoet Woord en Gees
​
Bybel Joernale vir kinders 9-13 jaar
​
Selfdoen Bybel Joernale vir kinders
vanuit verskillende Bybelboeke
(voorgestelde ouderdomme: 9-13 jaar)
.
​​
​
Alle Bybel Joernale is gratis aflaaibaar by:
www.thedesertcall.com / Afrikaanse opsie.
About Us

Psalm 19:10-11
10 Die vrees van die Here is rein: dit bestaan tot in ewigheid;
die verordeninge van die Here is waarheid
— tesame is hulle regverdig.
11 Hulle is begeerliker as goud,
ja, as baie fyn goud;
en soeter as heuning en heuningstroop.

Die Bewuswording van ‘n leemte ...
Deur verloop van ‘n paar maande is my fokus herhaaldelik gedraai na die uitroep en behoefte vir vars kreatiewe Bybelstudies, spesifiek vir jong Afrikaanse kinders. Bybel gefondeerde materiaal wat nie bylas nie, maar in-haak by kinders en hulle ondersteun in die proses om self deur hulle Bybel te lees. Dis amper soos om hul “gym-buddy” te wees, nou het hulle eintlik ‘n “Bybel-buddy” as vriend gekry! Hiervanuit is ‘My Kreatiewe Bybel Joernale’ gebore. Die materiaal begelei kinders (wat al self kan lees en skryf), in die deurlees en oordenking van verskillende Bybelboeke. Jonger kinders kan met die hulp en begeleiding van hul ouers saam daardeur werk.

Die Hartsbegeerte
Die begeerte van my hart is dat elke kinders sy/haar eie Bybel sal begin verken. Dat die jonger geslag nie meer die Bybel net as ‘n dik “Boek” met baie woorde sal sien nie, maar dat hulle in hulle verbeelding prentjies sal bou van dit wat hulle daarbinne lees. Deur kinders te leer om Heilige Gees deel te maak en uit te nooi soos wat hulle deur die Woord van God lees en om Hom toe te laat om hulle harte aan te raak en diepere wyshede aan hulle te openbaar. Dat kinders met hul eie vingertjies deur die blaaie van God se Woord sal rondblaai: voorentoe en agtertoe, hier en daar tussen verse, opsoek na Waarheid. My visie is dat jong kinders meer gereeld self die begeerte sal ontwikkel om uit hul eie Bybels te wil lees. Die Joernaalsamestelling is so uiteengesit dat die Woord en Gees met 'n kind se hart sal werk tydens die deurwerk van die lesse. Die einddoel is dat ons kinders deur die leiding van Heilige Gees in hulle, God se Stem vir hullle-self vanuit die Woord sal begin ervaar. Met hierdie kern hartsbegeertes is "My Kreatiewe Bybel Joernale" saamgestel, spesiaal vir jong Afrikaanse kinderharte.
My Kreatiewe Bybel Joernale
Gedurende die deurwerk van ‘n Bybel Joernaal gaan kinders aan verskillende kosbare Bybelstudietegnieke blootgestel word wat tot gevolg sal hê dat hulle die Woord van God beter sal leer ken. Tesame hiermee, sal hul geloof in God groei soos hulle kennis van Hom toeneem. Elke Kreatiewe Bybel Joernaal is opgedeel in ‘n twee-bladsy daaglikse les/sessie. Elke dag se les verwys na ‘n sekere Byblegedeelte, wat chronologies op mekaar volg en gepaardgaan met ‘n paar vrae en aktiewe vers-opdragte, om diepere Bybelse oordenking aan te wakker. Die samestelling is ook van so aard om kinders te laat besef dat die karakters en gebeure in Bybelverse, vandag nog ervaar en gesien word – dus is die Bybelkennis wat hulle opdoen, vandag nog prakties toepaslik in hul eie jong lewens.
​
Deur daagliks puntsgewys deur die temas/lesse te beweeg, sal kinders oor verloop van tyd:
-
die ligging van verskillende Bybelboeke beter leer ken
-
Bybelkarakters ontmoet as werklike persone
-
ontdek wat sommige moeilike woorde in die Bybel beteken en leer hoe om hulle te ontrafel
-
leer om vanuit die Woord te bid
-
meermale hulle verbeelding aktiveer en inleef in Bybelse tekste
-
verskillende Bybelstudie metodes gebruik om dieper in die Woord te delf en lewend te maak vir hulleself
-
leer om die kern/ hart/ tema van ‘n teks te identifiseer
-
met groter aandag en intensie Bybelverse te bestudeer
-
leer hoe om die waarhede van die Woord, deel van hul eie jong lewens te maak (toepassing)
-
leer om kernverse (waarhede) op kreatiewe maniere uit te beeld sodoende die memorisering van die Woord in hul hart en gedagtes vas te lê.
-
besef dat Heilige Gees hul geliefkoosde en broodnodige Onderwyser is wanneer hulle die Bybel lees en bestudeer
-
‘n lewenslange fondasie vorm van hoe om die Bybel prakties deel van hulle lewens te maak en sodoende ‘n groot liefde vir die Woord van God te ontwikkel.
My Kreatiewe Bybel Joernale is op die oomblik nog net is Afrikaans beskikbaar.
Heuningsoet Woord en Gees
se Droom
Mag elke Bybel Joernaal tot seën wees vir die wat daardeur werk.
Mag Heilige Gees aan kinders, op ‘n vroeë ouderdom,
die diepte en rykdom van God se Woord openbaar.
Mag ons kinders as seuns en dogters van God
die lewe instap met ‘n vaste identiteit in Christus.
Mag hulle hierdeur toegerus word met
Bybelse kennis en insig van wie God,
hulle Hemelse Pa werklik is.