

2025
Boodskappe gedurende die verloop van die jaar
My dierbare kind ...
​
Jy is 'n nuwe mens - 1 April 2025
​
My kind, bedink My Woord biddend tot dit vir jou oopgaan. Wag op diepere openbarings van wie Ek vir jou is en wil wees.
​
Jy is verenig met My. My opdrag aan jou is om IN My te lewe (Johannes 13:4). Hierdie is nie 'n opsie, of vir oorweging nie. Nee, hier gee Ek aan jou die sleutel tot 'n lewe waarin jy vrug sal dra - vrug wat sal hou en My Vader sal verheerlik. Neem My Woorde en deurdink dit. Vul jou daarmee. Laat dit jou gedagtes deurdrenk en jou gees versadig. Wanneer hierdie gebeur, snoei en vorm Ek jou volgens My Beeld. Hierdie snoeiproses mag ongemaklik wees, maar laat My toe om jou te vorm, te help en te vernuwe. Gee beheer oor aan My en vertrou My in hierdie proses. Hierdie metamorfose neem tyd, wees dus geduldig met jouself, maar bly nederig en pleibaar.
Hierdie proses vind plaas weg van die menslike oog, verborge en versteek van die geraas en gejaagde uitelike beweging. Dit is hoekom jy meermale sal begeer om alleen, eenkant en afgesonder te wees. Dis My Gees wat jou trek om Sy Meesterswerk IN jou te voltooi en te vervolmaak. Gedurende hierdie proses van snoei en vorm, sal jy gestimuleer word om vrug te begin dra. Klein lewensveranderinge sal sigbaar word as vruggies in jou allerdaagse optredes. Ek verheug My hierin, want hierdeur sien Ek jou groei, jou doelbewuste behoefte aan nuutword, asook die neerlegging van jouself. My Vader (die Boer), hou jou dop en word verheerlik wanneer jy vrug dra as gevolg van jou eenheidslewe IN en deur My. Jy sal My karakter begin weerkaats. Vader sal My begin raaksien IN jou. Hierdeur is dit ook sigbaar dat jy gekies het om My dissipel te wees.
Onthou dat hierdie hele proses waardeur jou oorgawe, neerlegging, vernuwing en eenworing met My, tyd vat. Wees geduldig met jouself in hierdie proses. Wag op My en deel met My jou hele hart in alles wat jy doen en beleef. Hierdie is waarvoor jy geskape is: om te besef dat Ek EEN is met jou en IN jou lewe. Wees konstant hiervan bewus. Ek BINNE-IN jou, gee vir jou, 'n lewe van heerlikheid deur My. Met hierdie vaste wete - beleef hoe Ek jou neem van een openbaring van heerlikheid na 'n volgende. Beoefen en dissiplineer jou lewe IN en deur My. Lewe heilig en afgesonder vir en saam met My. Jy sal 'n lewe van vrede en oorvloed ervaar - dis wat Ek vir jou in stoor het, van die begin van die grondlegging van die aarde af. Dis wat Adam verwerp het - 'n wandel, in en saam met My, maar My Seun het dit herstel. Glo My in hierdie woorde. Neem dit ernstig ter harte. Ek bedoel elke Woord. Laat dit lewe verwek in jou gees en jou lewe vernuwe. IN My is jy nuut. Lewe as 'n NUWE SKEPSEL op aarde. Heers, dien, hê lief, diep en opreg, konstant... Lewe vanuit My as Bron wat Liefde self is en jy sal vrug dra - vrugte wat sal hou. Amen en Amen!
​
Geheimenisse van die huwelik en kerk - 5 Februarie 2025
​
My kind, ek wil aan jou die diep geheimenis van die huwelik openbaar. Hier lê 'n geheim en 'n sleutel. 'n Geheim om My bruid en 'n vrou in die huwelik tot haar ware self te laat blom, asook om 'n man in sy volheid te laat heers.
​
Die twee is vervleg, My bruid en Christus en 'n man en vrou. Voor My is hulle een in gees. Die bruid is kwesbaar, behoeftig vir liefde, sorg, beskerming en sekuriteit. Die man is weer die leier, die heerser, die vegter ('worrior'), die oorsigter in outoriteit. Saam dien die een die ander in harmonie. Saam smelt die twee in eenheid wanneer die man homself neerlê in wie hy is, kruisig vir sy vrou en haar liefhet met alles in hom (Efesiërs 5). Die bruid / vrou onderwerp haarself vrywilliglik onder die man se gesag (keuse). Hier, waar byde partye nederig, vol liefde en met respek mekaar dien en eer, hier word die bruid se lippe en hart geroer, wat uitborrel in woorde van prys en eer teenoor haar man.
​
Jy sien, Ek het byde partye geskep: 'n vrou begeer om liefgehê te word en deur liefde en 'n gevoel van opoffering daarvoor, ontlok dit diepere dankbaarheid en lofprysing vanuit haar hart as uitvloeisel vir haar man. Die man aan die anderkant, benodig en begeer respek en onderdanigheid in die rol van outoriteit waarvoor Ek hom geskape het. Wanneer die man gerespekteer word in sy plek van aanstelling en outoritiet en homself so handhaaf, tesame met 'n nederige aflegging van homself teenoor sy vrou, vind die hart van 'n man sy plek in sy vrou se lofprysing tot hom. Deur hierdie gedrag van die man (liefde teenoor sy vrou en aflegging van homself), bring dit die vrou tot 'n plek van volwassenheid, volkomenheid en vervuldheid in haar volle vrou-wees in haarself. Die man begeer 'n volwasse, selfstandige vrou vir harmonie in die huwelik . In volwassenheid, besef 'n vrou haar stand in die liefde wat haar man vir haar het (sekuriteit) - sy neem dit in besit, sy eien die liefde vanaf haar man, vir haarself toe en maak dit haar eie. In hierdie proses besef sy wie sy is - sy word liefgehê met 'n onverganklike liefde van sekuriteit, opoffering, lewens-aflegging en diepe deernis teenoor haar. Lofprysing kan nou nie weerhou word nie - dus borrel dit vanuit die bruid se lippe tot haar verlosser, vriend en man. In nederigheid ontvang die man hierdie lof en veroorsaak dit 'n ewewig van wedersydse hamonie en diepe vervulling in die huweliksverhouding. Dit is My ontwerp vir die Liggaam van die kerk, geillustreer deur die man en vrou in 'n liefdes verbond van harmonie. Ek het jou geskape om in verbond met My te wees. Ons verhouding is 'n verbond van liefde - wedersydse aflegging van self, respek, liefde, lofprysing en seën. Leef daarin en neem dit in besit. Jy is Myne. Amen!
​
​​​
Draai na My - 16 Januarie 2025
​
My kind, net soos vir Joshua sê Ek vir jou vandag: wees sterk en baie vasberade IN My in alles wat jy doen. Omring jou met My Woord. Bedink dit dag en nag. Jou rooi tou van uitkoms is lofprysing aan My. Gebruik dit wanneer jou moed val en wanneer omstandighede jou wil beinvloed. Drink van My lewensap - bly IN MY geanker - jou Ware Wingerdstok van Lewe.
​
Kyk op, lig jou ken en weet waar jou krag vandaan kom. Ek alleen is God. Oorwinning behoord aan My alleen. Moenie beangs rondom jou kyk nie, maar ken My in alles wat jy doen en jy sal My vrede ervaar in jou hart en in jou gedagtes. Lê jou lewe voor My af, elke droom van jou , elke hartsbegeerte, elke doelwit wat jy wil bereik - gesels met My daaroor, want EK wil deel wees van elke 'detail' van jou lewe. Nooi My uit om jou te wys hoe intiem vervleg Ek met jou is - jy sal verwondered staan. My Gees deurgrond jou wese en staan jou by. Hy is jou krag, jou Vertroueling en jou bewerker van Vrede.
Daarom draai gedurig na My met jou hele hart en gedagtes. Ken My, want Ek wil jou help, jou op die pad lei wat Ek vir jou beplan het.
​
​
​​​​​​​​​​​​​
​
​
​
​
​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​